Wat is voorlopige belasting?
Voorlopige belasting is nie ‘n afsonderlike belasting nie. Dit is ‘n metode om verskuldigde inkomstebelasting te betaal wat verseker dat die belastingbetaler nie groot bedrae met aanslag betaal nie, omdat die belastingaanspreeklikheid oor die toepaslike jaar van aanslag versprei word in minstens twee paaiemente.
Wie moet voorlopige belasting indien?
- Maatskappye en trusts moet voorlopige belastingopgawes indien.
- Individue wat inkomste anders as vergoeding (’n vaste salaris/pensioen waarop belasting reeds afgetrek word) verdien. Dit kan persone insluit wat huurinkomste ontvang van ‘n eiendom, belasbare rente-inkomste uit beleggings of ander inkomste uit ‘n onderneming.
Watter stappe moet ek neem om uit te werk watter bedrag verskuldig is?
Die bedrag voorlopige belasting betaalbaar word uitgewerk volgens die geskatte belasbare inkomste vir daardie bepaalde jaar van aanslag, soos volg:
- Die totale geskatte belasting vir die volle jaar;
- Minus die werknemersbelasting betaal vir die volle jaar;
- Minus die bedrag betaal vir die eerste voorlopige
Wanneer moet dit betaal word?
Individue, trusts en ander entiteite met ‘n Februarie jaareinde moet voor/op die laaste werksdag voor 31 Augustus en 28/29 Februarie van elke jaar hul voorlopige belastingopgawes indien. Indien daar enige bedrag aan SARS betaalbaar is moet die betalings ook voor/op hierdie datums geskied.
‘n Derde vrywillige betaling kan ook gemaak word binne ses maande na die jaar van aanslag.
Pasop vir boetes en rente!
Boetes van 10% tot 20% asook rente word gehef vir die laat indiening/betaling asook die onderskatting van voorlopige belasting.
Onthou, deur saam met jou rekenmeester te werk en ’n akkurate skatting tydig in te dien en betaling te maak, indien nodig, verseker jy ’n kommervrye, seepgladde proses waar boetes en rentes uitgeskakel word.
Kontak gerus Orania Rekenmeesters vir voortreflike diens en professionele advies rakende die hantering van u belastingopgawes.